Helenè Bester en Kristi Kat

Helenè Bester en Kristi Kat

‘n Nuwe kindermusiek CD,  getiteld ‘Op die Plaas’, is sopas deur Helenè Bester en Kristi Kat uitgereik en beloof om ‘n treffer te wees onder jong kinders en hul ouers.

Dit is haar eerste kinder-album en dié keer word sy vergesel deur ‘n vriendelike karakter, genaamd Kristi Kat. Helenè, wat self ook deesdae ma is (van klein Kristi Ellen Theron, 17 maande),  sê sy kan haar nou vereenselwig met ouers wat op soek is na gehalte-musiek vir hul kinders. “Ek het besef daar is ‘n behoefte aan nuwe Afrikaanse musiek en veral aan goeie, verwerkte FAK-liedjies,” sê sy. Helenè, self ‘n voorstaander van suiwer taalgebruik, sê:  “Ek voel dit is belangrik dat kinders steeds goeie Afrikaans moet leer praat en sing.”

Van die snitte sluit in die bekende Hasie (oorspronklik deur Al Debbo vertolk) en Des en Dawn Lindberg se Die gezoem van die bye. Die lirieke is effens gemoderniseer en Roche Victor het as musiekregisseur vir die CD opgetree.

Afgesien van bekende treffers soos Oupa se Ford en immergroen slaaptyd-liedjies soos Sterretjie, bevat die CD ook vier splinternuwe snitte (deur Helenè self geskryf): Gebedjie,  Die Plaashek en Kristi Kat, die temalied.

Kristi Kat is die groot en vriendelike pienk-en-blou kat wat saam met Helenè optree en maatjies met haar oulike persoonlikheid betower!

‘Op die Plaas’ is geskik vir voorskoolse luisteraars, maar jong kinders vanaf graad 1-3 sal ook hierby kan aanklank vind. Die snitte is geskik as goeie materiaal vir deelname by kunswedstryde.

Helenè het ‘n gevestigde naam in die Afrikaanse ligte musiek-bedryf en is vir, onder andere, Geraas- en Ghoematoekennings benoem. Sy is bekend vir gewilde treffers soos  die duet Nie te Laat nie (geskryf deur Barney Lategan), waarvoor sy en Gerhard Steyn in 2012 ‘n Tempo-toekenning ontvang het en die Youtube treffer, Iemand om vas te hou.

Sy was al voorheen ook benoem vir Tempo-toekennings in die kategorie: Vroulik Kontemporêr. Helenè doen tans verskeie solo-optredes en tree ook saam met haar broer Cobus Bester op, maar vir eers verg Kristi Kat al haar aandag!

Die album is op iTunes en in alle musiekwinkels beskikbaar. Indien verdere inligting verlang word gaan na die “kontak” bladsy en u navraag sal spoedig hanteer word.